Canolafokus 126 April 2026
Canola Kalender – Belangrikheid van Tydsberekening
Inleiding
Die voordele van canola in 'n wisselboustelsel is reeds lank bekend, maar daar is steeds nuwe toetreders tot die bedryf en gewas. Canola het homself gevestig as 'n onmisbare skakel in wisselboustelsels. Steeds is daar vrae en onduidelikheid oor die ideale tyd vir verskillende aksies in die verbouing van canola. Die verandering van cultivars en die wisselvalligheid van die seisoene, bemoeilik die besluitneming op die plaas. Die ideale periode waarbinne die aksies moet plaasvind is soms net enkele dae.
Wat bepaal die fisiologiese ontwikkeling en potensiaal van canola?
Die plant se ontwikkeling bestaan uit hoofsaaklik twee fases, naamlik die vegetatiewe en reproduktiewe stadiums (Figuur 1).
Saamgestel uit: Sylvester-Bradley (1985), Canola Council of Canada en P Lombard
Belangrike besluite ten opsigte van tydsberekening sluit in die volgende:
1. Plantdatum
Die regte plantdatum speel steeds die belangrikste rol en bepaal blomdatum. Plaaslike data toon dat vroeë cultivars minder sensitief is vir blomdatum, terwyl medium cultivars beter vaar met 'n vroeë aanplanting.
Dis belangrik dat produsente plantdatum by die cultivar moet aanpas, om te verseker dat die canola blom in die tweede helfte van Julie. Dis die bestuurspraktyk met die laagste risiko. In Tabel 1 word plantdatums en risiko opgesom en is saamgestel deur Fletcher (2026) en P Lombard. In Figuur 2 word die dae tot blom van enkele cultivars aangedui oor die afgelope vier seisoene.
Die keuse van die regte cultivar vir die verwagte blomvenster in die Tygerhoek (Riviersonderend)omgewing is byvoorbeeld soos volg:
- Vinnige cultivars soos Diamond behoort later as 15 April geplant te word, om vroeë blom, Sclerotinia en ryprisiko te vermy.
- Stadiger cultivars soos 44Y94 kan enkele dae voor 15 April geplant word om 'n ideale tyd van blom te kry.
In die Swartland, waar plantdatum en ontkieming hoofsaaklik reënvalgedrewe is, moet die fokus wees om te plant so naby as moontlik aan betekenisvolle reën vanaf die 15 April.
| Saai datum | Grondvog bo verwelkpunt vir minstens 4 dae (3.5-6% vog) | Droë grond (beduidende reën voorspel binne 7 dae) Vroeg in die seisoen (April) tot 30mm, vog reeds in die grond kan bygetel word. |
Droë grond (geen reën voorspel) |
|---|---|---|---|
| 1-15 April (vroeg) (Suid-Kaap) |
Nat saai met versigtigheid Maak seker daar is voldoende grondvog. |
Droë saai met versigtigheid Indien reën onvoldoende is, is daar 'n risiko vir saadverswakking. |
Moenie droog saai nie Risiko dat ligte reën tot saadverswakking kan lei. |
| 16 April tot 10 Mei (optimum) (Swartland en Suid-Kaap) |
Nat saai | Droë saai Gee voorkeur aan ligter gronde. |
Droë saai met versigtigheid As reën nie realiseer nie, is daar risiko vir saadverswakking en laat opkoms. |
| Diep plant Slegs as voldoende vog beskikbaar is, dieper in die grond. |
|||
| 10 Mei tot 30 Mei (laat) (Wes-Kaap) |
Nat saai Saad sal ontkiem, maar met laat opkoms kan opbrengs-potensiaal verminder word. |
Moenie droog saai nie Wag vir 'n breek. Oorweeg ander gewasse of opsies. |
Moenie droog saai nie Wag vir 'n breek. Oorweeg ander gewasse of opsies. |
| 1 Junie en later (te laat) (Wes-Kaap) |
Nat saai Verwag laer opbrengs-potensiaal. Oorweeg ander gewasse. |
Moenie droog saai nie Te laat vir canola. Oorweeg ander gewasse. |
Moenie droog saai nie Te laat vir canola. Oorweeg ander gewasse. |
Groen is relatief veilig, oranje dui op versigtig en rooi dui op risiko.
2. Bemesting
Canola het 'n beduidend hoër voedingsbehoefte as kleingrane. Die opbrengs van canola wissel tussen 45% en 64,2% (10 jaar gemiddeld - 59,3%) van die koringopbrengs. In Tabel 2 word die bemestingsriglyne vir stikstof (N) gegee.
Canola verwyder ongeveer
| Stikstof | : | 40 kg N/ton |
| Fosfaat | : | 7 kg P/ton |
| Kalium | : | 9 kg K/ton |
| Swawel | : | 10 kg S/ton |
| Boor (B) | : | Krities vir bestuiwing en peulvorming. (Toediening voor volblom is noodsaaklik) |
Canola is baie gevoelig vir saadgeplaasde bemestingstowwe en kunsmis moet verkieslik 10-20mm weg van die saad geplaas word. Die hoeveelheid stikstof moet beperk word tot <15 kg per hektaar met plant. Twee topbemestings word aanbeveel om die risiko's te beperk. 'n Tweede bobemesting mag in lae reënval gebiede en droë seisoene afgeskaal of heeltemal teruggehou word.
Spoorelemente moet as blaarbespuitings toegedien word indien grondontledings op gebrekkige grondinhoud dui, of tekortsimptome gedurende die groeiseisoen waargeneem word.
3. Onkruidbeheer
Effektiewe en tydige praktyke is noodsaaklik vir die beheer van onkruid. Die etiket van die produk moet geraadpleeg word en daar moet ook gelet word op die mengbaarheid van verskillende middels. 'n Chemiese adviseur met ondervinding in die veld is van onskatbare waarde. Enkele aspekte van onkruidbeheer word hier aangeraak.
Tipe cultivars
Daar is drie tipe cultivars in Suid-Afrika, hulle word geklassifiseer volgens die tipe onkruiddoder wat op hulle gebruik kan word.
- Konvensioneel
Grasbeheer word met “Fops and Dims” onkruiddoder gedoen. Hulle is baie gevoelig vir sulfoniel ureurm (SU's) oordrag in die grond. - Clearfield (Cl)
Ideaal vir die ondersaai met lusern. Imazamoks onkruiddoder is geregistreer op die cultivars. - Triasien bestand (TT)
Triasien onkruiddoders is geregistreer vir gebruik op TT cultivars. Verwagte opbrengs is 10% tot 20% minder as ander twee cultivargroepe. Hulle is baie gevoelig vir SU's oordrag in die grond. - Clearfield en Triazine bestande cultivars
Hoewel slegs drie groepe vermeld is, moet ons besef dat daar cultivars is wat albei bogenoemde eienskappe bevat. Hul opbrengspotensiaal bly steeds laer as die Cl-groep maar die voordeel is dat Imazamoks en Triasien onkruiddoders op hulle gebruik kan word.
Onkruidbeheer
'n Effektiewe voorsaai bespuiting is die ideaal vir canola verbouing. Dit is egter nie altyd moontlik nie, veral as die eerste reën eers te laat in die seisoen kom. Glifosaat moet minstens 7 tot 14 dae voor saai toegedien word, veral op sanderige grond. Indien daar direk voor plant gespuit moet word, moet paraquat of diquat, gebruik word.
Trifluralin beweeg nie deur loging in grond nie, dit moet in die ontkiemingsone van die onkruidsaad geplaas word. Trifluralin word deur ultraviolet van die son afgebreek en moet binne enkele minute na toediening deur grond bedek word.
Tydsberekening ten opsigte van onkruidbeheer
Produkte soos die Triasiene en Propisamied (bv. Kerb Flo) het reën nodig na toediening. Dit verseker wortelopname en effektiewe beheer van grasse en sekere breëblaaronkruide.
Aktiefgroeiende onkruide word baie meer doeltreffend beheer as plante onder stremming. Canola is 'n baie goeie onderdrukker van onkruid. 'n Egalige en goed gevestigde plantestand, help om veral later ontkiemende onkruide te onderdruk.
4. Siektebeheer
Swartstam en Sclerotinia is die gevaarlikste siektes by canola in die Wes-Kaap. Swartstam oorkom met tyd die weerstandsgene wat in canolacultivars is.
Wanneer om te beheer
| 4.1 | Saadbehandeling Saad vanuit Australië en Kanada word hoofsaaklik met swamdoders uit die SDHI-groep behandel. Dit beskerm die saailing aanvanklik, wanneer dit die meeste vatbaar is vir die siekte. |
| 4.2 | Swambeheer Indien swambespuiting oorweeg word, moet daar op 4-6 blaarstadium gespuit word. Omstandighede wat die risiko verhoog is:
|
| 4.3 | Bestuur Goeie bestuurspraktyke verminder die nodigheid om te spuit vir swartstam (Blackleg Management Guide, GRDC).
|
5. Beheer van Sclerotinia
In die Suid-Kaap sal dit 'n groot risiko wees, om nie ten minste een bespuiting te oorweeg nie. As 'n algemene riglyn moet daar tussen 20 en 30% blomstadium gespuit word.
Hoe lyk die % blomstadiums (Figure 2 en 3):
- 10% blom: Waar daar 10 oop blomme aan die hoofhalm is.
- 20% blom: 16 tot 18 oop blomme aan die hoofhalm.
- 30% blom: 20 oop blomme aan hoofhalm (paar klein peule reeds gevorm).
- Dit neem 2 tot 4 dae vir 'n 10% verandering in blompersentasie.
- Pas gevormde peule asook afgespeende blomme word ook as “oop blomme“ getel.
Waarom spuit tydens blom?
Swammiddels maak nie siek plante gesond nie. 'n Effektiewe bespuiting benat die blomblare en plant, dit voorkom dat spore op blomblare groei en ontwikkel. Die proses vind plaas nadat die blomblaar op die stam geval het, waar die blaar by die stam aansluit. Bespuitings voor blomtyd is dus nie effektief nie.
Sclerotinia Photo Gallery
6. Platsny en oes van canola (tyd)
'n Krities belangrike stadium in die produksie van canola is die oes van die gewas. Groot saadverliese kan voorkom weens voortydige platsny of doodspuit van canola. Canola word ook op twee moontlike maniere geoes, platsny of direk. In die Overberg word 'n groter persentasie canola platgesny as in die Swartland. Platsny van canola is veiliger in areas waar sterk wind tydens die oesperiode voorkom. 'n Goed gevormde windry help om die platgesnyde canola teen die wind te beskerm.
Punte belangrik vir oes
- Sny canola plat in areas waar sterk wind tydens oestyd voorkom.
- Die windry moenie groter wees as wat die stroper kan hanteer nie.
- Sny op die regte stadium plat (60% saadverkleuring).
- Korrekte hoogte van platsny is net bo die eerste vertakking. Dit help die windry beskerm teen wind en vergemaklik die optel proses tydens oes.
- Vog-inhoud tydens oes: Daar kan geoes word vanaf 8-12% voginhoud. Groot verliese kan voorkom as canola geoes word by lae voginhoud.
- Indien canola doodgespuit (desiccated) word, moet dit nie voor 90% totale saadverkleuring (die pit moet heeltemal verkleur wees) gedoen word nie. Indien te vroeg gespuit word, kan daar ernstige verliese ontstaan en chlorofil in die saad is ook 'n probleem.
Bepaling van persentasie saadverkleuring
- Pluk 1 peul op die middelste derde van die hoofhalm.
- Pluk 3 peule van die middelste derde van die syhalms.
- Herhaal op 5 plante (20 peule).
- Beweeg na 4 ander areas in die land en herhaal prosedure tot daar 100 peule is.
- Breek die peule oop en versamel die saad.
- Vergelyk kleur met ondersaande skaal (Tabel 3) soos bepaal deur Department of Primary Industry, New South Wales (GRDC, 2020).
Bronne
- Sylvester-Bradley R, 1985. Aspects of Applied Biolgy, 10: 395-400.
- Top tips for effective canola establishment.
Fletcher A, 2026.
Enquiries / Navrae
Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western CapeDirektoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. piet.lombard@westerncape.gov.za
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Franco le RouxSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting



